Monday, January 25, 2010

Thursday, January 21, 2010

Ek soek na 'n antwoord op Schalk se Geleerde Antwoord

Net 'n vinnige, en baie voorlopige respons:

Dit het 'n Catherine Medici geverg om die Italiaanse kookkuns aan die Franse oor te dra, en dit in ongeveer 1560. So lank? Nou hoe lank sou dit dus geneem het vir die Hollanders om op sy beurt weer die Franse kookkuns te absorbeer - en dit is Hettie se uitgangspunt, dat dit die stuifmeelproses was.

Wat die Spaanse besetting van Holland betref. Hoe sterk was die invloed? Is daar vandag Spaanse woorde in hule woordeskat? Dit was tog eintlik 'n korstondige besetting, of was dit nie? Ek is nie seker nie.

Het selfs Spanje kerriedisse? Nie wat ek van weet nie. Ook nie Holland nie, maar hulle het wel hulle reistafel, wat ek dink ontwikkel is na hulle bestting van die Verre-Ooste. Onthou ook dat speserye peperduur was. As die Arabiere dit aan die Venisiers verkoop het, sou dit peperduur uiteindelik by Holland uitgekom het. En in daardie tye het ons armes en aristokrasie gehad ... wel, meereneels. Wat ek bedoel is, ek reken die armes het hier na Suid-Affrika toe geimmigreer, en sou hulle almal toegang gehad het tot die peperduur speserye?

Ek dink tog ek moet jou interssante pos laai, al is dit anoniem.
Hi Johan,



Dankie vir jou blog-adres; interessante leesstof!



M.b.t. Hettie Claasens se argument: sy werk inderdaad nie haar argument goed genoeg uit nie, maar ek is dit al hoe meer met haar eens: die “oorsprong” (vir insoverre mens ooit van so-iets kan praat) van ons gebruik van speserye aan die Kaap, is inderdaad nie direk Maleisië/ Indonesië nie. Leipold e.a. se mite dat die “slawe die kookkuns Kaap toe gebring het” is baie oorvereenvoudig.

Al hoe meer argifale en ander bewyse kan deesdae gelewer word om te toon dat Noord Indië/ Persië via veral die Arabiere verantwoordelik was vir die oorspronklike beslag en bereidingsmetodes van disse soos sosaties, bobotie, breyanis e.d.m. My vriend Jacques Meerman, ‘n Nederlandse koshistorikus en vertaler, die afgelope paar dekades in Spanje woonagtig (en toevallig aan’t korrespondeer met Hettie) , het onlangs ‘n baie interessante boek (“1001 Koks”) oor die fundamentele Arabiese invloed op die disseminasie van bestanddele en geregte in die Suid en Wes-Europese kooktradisie gepubliseer. Mens moet natuurlik onthou dat Moorse Spanje en Sicilië in die Middeleeue die hoogbloei van beskawing in Europa was. So toon Jacques sorgvuldig hoedat geregte soos frikadelle, risotto/ paella/ filaf, en (vir ons gespek van belang) “gemaalde, gekruide vleis met ‘n vla bolaag” (dus: prototipe-bobotie) deur die Arabiere vanaf rondom die 9de eeu Europa ingedra is.



Wat Holland (en dus die Kaap) se blootstelling aan Oosterse speserye aanbetref, moet mens die volgende in gedagte hou:

a). die feit dat die Nederlande t.m. die 16de eeu deel van Spanje was, en dus heelwat Moorse (en uiteindelik Arabiese = Persiese = Indiese) invloede opgedoen het (as goed nagevorsde voorbeeld: die oorsprong van die befaamde Hollandse “hutspot” kan terugdateer word na die beleg van Leiden in 1573/4 – en dan na ‘n dis wat deur beleërende Spaanse troepe te velde berei is);

b). Wyd-uitgebreide handelsnetwerke in SO Asië voor 1652 – vanaf die 16de eeu het die VOC handelsposte in o.m. hedendaagse Iran, Koromandel (Tamil Nadu, Suid Indië), en (vanaf na die Verdrag van Kandy in 1638) uitgebreide belange in Sri Lanka (“Zeylan”) gehad – benewens Java, Molukka, Ambon, ens (waar ons “Maleiers” vandaan kom). As mens in gedagte hou dat sekere spserye wat ons as tipies “Maleis” beskou eintlik endemies aan Sri Lanka (pypkaneel) en Suid-Indië (peper, kardomum, gemmer, borrie) is, dan is dit nie vergesog om te postuleer dat die Nederlanders moontlik wel (mede) dié speserye Java, ens toe versprei het nie. En een stap verder: dat die redelik kosmopolitiese Hollandse here in Java, ens hul kokke na hul smaak laat kook het nie. (As mens Dan Sleigh se “Eilande” lees is een van die mees opvallende dinge immers die welberesenheid van VOC amptenare).



Ek dink dus daar is goeie rede om die “Maleier-slaaf” oorpsrong van Boerekos met ‘n moerse knip sout te neem. Dit gee moontlik sentimentele nuanses aan ons kookkuns, maar die waarheid is baie meer kompleks.



Groetnis!

Net 'n vinnige, en baie voorlopige respons:

Dit het 'n Catherine Medici geverg om die Italiaanse kookkuns aan die Franse oor te dra, en dit in ongeveer 1560. So lank? Nou hoe lank sou dit dus geneem het vir die Hollanders om op sy beurt weer die Franse kookkuns te absorbeer - en dit is Hettie se uitgangspunt, dat dit die stuifmeelproses was.

Wat die Spaanse besetting van Holland betref. Hoe sterk was die invloed? Is daar vandag Spaanse woorde in hule woordeskat? Dit was tog eintlik 'n korstondige besetting, of was dit nie? Ek is nie seker nie.

Het selfs Spanje kerriedisse? Nie wat ek van weet nie. Ook nie Holland nie, maar hulle het wel hulle reistafel, wat ek dink ontwikkel is na hulle bestting van die Verre-Ooste. Onthou ook dat speserye peperduur was. As die Arabiere dit aan die Venisiers verkoop het, sou dit peperduur uiteindelik by Holland uitgekom het. En in daardie tye het ons armes en aristokrasie gehad ... wel, meereneels. Wat ek bedoel is, ek reken die armes het hier na Suid-Affrika toe geimmigreer, en sou hulle almal toegang gehad het tot die peperduur speserye?
Soveel vrae. Ek sit hier met 'n glas sauvignon blanc (baie goedkoop) en wonder hoe mens aan die hitte kan ontsnap. En nog 'n vraag kom by my op.

Claassens beweer dat geen enkele groep hulself hier kon vestig as 'n dominante groep nie. Dis min of meer wat sy skryf. Nou wonder ek, en ag tog, hier is nou nog 'n vraag: Die moslem-geloof was tog die samebindende faktor, nie waar nie? Wat ek wel weet, is dat baie swart Afrikane wat slawe was hulle tot Islam gewend het (miskien kan mens met ‘n latere pos daarop ingaan). Dus sou jy tog uiteindelik 'n soort homogene groep hier gekry het, gegrond nie soseer op nasionaliteit nie maar eerder op geloofsoortuiging. En hieruitvoortspruitend sou tog ook 'n soort homogene koskultuur hom hier gevestig het, of hoe? Of ten minste sou die slamse koskultuur 'n mate van invloed gehad het op die koskultuur van die Afrika-slawe.

As ek daar was sou ek geweet het.

Nog ‘n sluk sauvignon blanc laat my beter voel. Mens bestee soveel van jou tyd om te wag. Wag om die lotto te wen; wag op ‘n oproep van ‘n geliefde, die geluid van ‘n motor wat buite stilhou. En soms, al wat jy voor wag, is ‘n koel seebries om op ‘n somersaand verligting te bring. ‘n Ligte bries, ‘n oproep, ‘n glas wyn. Soms is die lewe volmaak.

Meisie in die Bo-Kaap

Wednesday, January 20, 2010

Nou die aand, met ‘n uitsig oor die Kaap op ‘n soel somersaand, sit ek en ‘n paar vriende om die eettafel. Toe duik Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806 – Dr HW Claassens se boek op, in die gesprek. Hennie (ek noem hom maar so) het ‘n uiters gangbare ragu gemaak as sous vir die spaghetti. Toe ek die lekker dik pasta-stringe sien, herinner dit my dat ek meer dikwels moet terugkeer na die ou spaghetti, en vergeet van die dunner spaghettini. My mond het sommer gewater, natuurlik ook toe die maalvleissous gemeng word met die spaghetti, met die rooi peppadews wat Hennie skelm ingesmokkel het in die tradisionele Ragu. Maar Lettie (ek noem haar maar ‘Lettie’) het dit gewaar en luidkeels aan tafel aangekondig dat Hennie peppadews bygesit het. Hennie het smeulend in sy bord spaghetti gestaar terwyl hy hoop dit sou oorwaai en almal sou vergeet van sy geheime bestanddeel. Maar nou ja, dit was ‘n klomp foodies, ‘n klomp afkykers en almal het alreeds in hul fotografiese geheue ingeprent: peppdews by ragu. Die koeël was deur die kerk.


Waar was ek? Ja:


Ek was besig om oor Claasens se boek te praat. Omdat ons, hierdie nuutgevonde groepie Afrikaners, ‘n afval-aand beplan, so asof ons onself genoop voel om terug te keer na iets na aan die aarde, en ek een of ander tyd ‘n artikel oor afval vir DEKAT moet skryf, het ek heel toevallig deur Google op 'n uittreksels van Claasens se boek afgekom, en ‘n bietjie daaruit gelees.


Sy ontken dat Boerekos deur die Kaapse Maleiers beïnvloed is, maar eerder deur die Hollandse koloniste self. Die gebruik van speserye, wat die kenmerk is van die Oosterse koskultuur, het reeds sy beslag in Holland gekry, beweer sy, vanweë die handel in speserye wat Holland aan die begin van die 17e eeu van stapel laat loop het.


Hierbenewens beweer Claasens, in koel akademiese taal, dat dit mode was, of kom ons sê liewer ‘gebruik’ was om in Europa manskokke in die kombuis in te span. Hier aan die Kaap sê sy het die tradisie voortgeleef. Die burgers wat te arm was het Khoi-Khoi vroue in diens geneem om hul kos te kook, en hulle is opgelei en daar is deeglik oor hulle toesig gehou veral wat betref reinheid.


Nou is my vraag: indien jy ‘n bekwame Maleise slaaf in jou kombuis kon hê, in plaas van ‘n Khoi-Khoi vrou, wat jy waarskynlik voor sou moes betaal, hoekom dan die Khoi-khoi vrou verkies, terwyl die Maleise slawevrouens kennis van kruie gedra het en reeds ‘n bekwame kok was?



En dan die vraag: “Maar as die Hollanders eers aan die begin van die 17e eeu die Verre-Ooste begin koloniseer het, hoe kon die gebruik van kruie binne so ‘n kort tyd inslag vind aan die Kaap, wat in 1652 reeds deur die Hollanders beset is as verversingstasie?” By implikasie sou die gebruik van kruie dus spoedig deur Holland versprei het, sodat dit met die aankoms van die koloniste aan die Kaap gevestig is. Hmmmm ....


Daar is verskeie ander vrae wat opduik. En eintlik is hierdie blog ‘n manier om antwoorde te kry want, soos iemand op Lit-Net geskryf het, dis ‘n fassinerende gesprek.



Noudat ek telefoon my wakker gemaak het.

Die ander probleem wat ek het met haar aannames is dat die Italiaanse koskultuur in Frankryk posgevat het - en dus, by implikasie, die gebruik van kruie, wat op sy beurt weer via Venisie vanuit die Arabiese lande ingevoer is. Dit is 'n bietjie dik vir die daalder.



Catherine Medici het in die 1540's na Frankyk verhuis om met die Franse koning te trou. Is dit moontlik dat 'n koskultuur binne so 'n kort bestek kon posvat, en hom hier aan die Kaap vestig. Eerstens moes die kultuur 'emigreer' van Frankryk na Holland toe, en my tweede rede vir twyfel is: daar was 'n groot heersende klasseverskil in veral Frankryk. Die kennis van die aristokrasie was nie vir die gewone man beskore nie. Hoe sou dit dus so maklik kon oorspoel in Holland?



En, nou ja, daar is eintlik nog 'n vraag: waar is die gebruike van speserye wat kwansuis die Hollandse koskultuur sou beïnvloed?


Dit het meer gegaan oor souse ens.



Ek verwelkom enige insette. 'n Gesprek beteken dat meer as een mens aan die woord is. Daar is niks so vervelig soos een persoon wat die verhoog die hele aand beset nie.