Thursday, January 21, 2010

Soveel vrae. Ek sit hier met 'n glas sauvignon blanc (baie goedkoop) en wonder hoe mens aan die hitte kan ontsnap. En nog 'n vraag kom by my op.

Claassens beweer dat geen enkele groep hulself hier kon vestig as 'n dominante groep nie. Dis min of meer wat sy skryf. Nou wonder ek, en ag tog, hier is nou nog 'n vraag: Die moslem-geloof was tog die samebindende faktor, nie waar nie? Wat ek wel weet, is dat baie swart Afrikane wat slawe was hulle tot Islam gewend het (miskien kan mens met ‘n latere pos daarop ingaan). Dus sou jy tog uiteindelik 'n soort homogene groep hier gekry het, gegrond nie soseer op nasionaliteit nie maar eerder op geloofsoortuiging. En hieruitvoortspruitend sou tog ook 'n soort homogene koskultuur hom hier gevestig het, of hoe? Of ten minste sou die slamse koskultuur 'n mate van invloed gehad het op die koskultuur van die Afrika-slawe.

As ek daar was sou ek geweet het.

Nog ‘n sluk sauvignon blanc laat my beter voel. Mens bestee soveel van jou tyd om te wag. Wag om die lotto te wen; wag op ‘n oproep van ‘n geliefde, die geluid van ‘n motor wat buite stilhou. En soms, al wat jy voor wag, is ‘n koel seebries om op ‘n somersaand verligting te bring. ‘n Ligte bries, ‘n oproep, ‘n glas wyn. Soms is die lewe volmaak.

No comments:

Post a Comment