

HOOG TEEN DIE HELLINGS VAN LEEUKOP. BOEREKOS OP SY BESTE.
Hoog teen die hange van Leeukop – waar jy ‘n panomariese uitsig het oor die stad as die liggies begin flonker in die grys skemer – kom ons, almal kosliefhebbers, bymekaar as gevolg van een aand se gesels oor afval en nou, na ‘n maand of wat, is ons uiteindelik bymekaar. Vriende wat rustig saamverkeer. Rustig aan’t gesels as Schalk sy klassieke Andalusiese riñones al jerez (kalfsniere in sjerrie) voorsit as ‘n voorgereg waarna Hennie sy afval wat hy al vir vyf of ses ure op Stellenbosch gekook het, aan die beurt kom.
Die huis, wat die Amerikaners ‘n apartment sou noem, en die woord ‘woonstel’ nie eintlik behoorlik beskryf nie, is nogal minimalisties, aantreklik, en, omdat dit onlangs gebou is, seker so twintig jaar gelede, is dit ‘n plek sonder patina en, dus, ‘n plek sonder geheue. Miskien is dit waarom mens Hennie se afval nog meer waardeer. Dis gebore uit die geheue, ‘n herskepping van geure and smake uit die verlede en dis ... heerlik. Hemels!
“Wat kan mens alles eet,” vra Maggie terwyl sy ‘n been met ‘n stuk gelatien optel en daarna staar, op haar hoede, soos iemand wat iets onbekend in die tuin gewaar. Sy dra 'n nousluitende rok met 'n luiperd-kolle motief op. Haar hare is effe teruggeveeg van haar voorkop. “Alles,” antwoord die afvaleters soos een man. Maggie proe versigtig aan die been, met die sagte versmeltende gelatien aan, maar Maggie bly serebraal. Niemand weet wat sy dink nie.
Die groente, die varsgeplukte kruie, na die ure op die stoof, het heeltemal weggekook; die skaapwang, die tong was saggekook, en die verskillende smaak-komponente het lieflik saamgesmelt. Kos en woorde. Iemand het eenmaal op geskryf: "Art is the mediator between ourselves and life." Dit het alles begin met die gesprek oor afval ...
Na die ete probeer ones so effe dronkerig die smake en gewaarwordinge herskep. Dis wat ek so geniet die nabetragting, wat beteken ons praat weer oor kos, oor hoe dit was.
Na die tyd, toe Hennie en Linda huistoe is, sit ek, Schalk en Lettie die gasvrou, op die rusbank en gesels. Lettie staan op en skink vir ons nog wyn. Ons is al ‘n bietjie dronk van al die wyn, behalwe Schalk.
“Jy weet,” sê hy, terwyl hy voor hom oor die stad uittuur en so half mymerend, amper asof hy met homself praat, sê: “Ek dink dis die lekkerste afval wat ek nog geëet het.”
Dan staan ons op om huistoe te gaan en groet Lettie met ‘n soen.

No comments:
Post a Comment